Wednesday, 12 September 2012

Michael en Sean se FIETSRY partytjie

Jip! Dis hoe ons dit hier doen, jy gaan hou piekniek erens ver weg van jou huis af!...en jy BID vir mooi weer. Gelukkig het dit nie gereen nie. Dit was egter maar baie winderig en koud.

Dit het egter nie vir flukse fietsryers se entosiasme gedemp nie. En daar is BAIE PLEK om te ry na hartelus.

die wind waai jou hae 'n stralekrans om jou kop



mamma het gebak dat dit bars

Wow...kyk hoe gelukkig is ons!
 
Ons kon eers by die huis kersies blaas.....die wind was te erg by die partytjie.
dis lekker om wakker te word op jou verjaardag en nog by ma en pa onder die kombers te kan inspring. Lekker verjaar my twee blou ogies!
Die huis is besaai met LEGO.... en die manne BOU!!

Tuesday, 4 September 2012

lente in my Denmans Street tuin


Die pruimboom in my agterplaas het my Maandag 27 Augustus met hierdie delikaatste en asemrowende mooi bloeiseltjies verras.
Ek het nie eers geweet nie, maar daar is affodille orals in my tuin...net jammer die liewe mense wat dit ingesit het het hier-een en daar-een ingesit. En sommer regonder die struike. Ai. Steeds pragtig!
...en die kleur van die viooltjies bly my gunsteling!
...en ek wonder NIE waarom daar sneeuklokkies sommer so wild oral in my tuin opkom nie! ha-ha...
 

sneeupret

So twee naweke trug het ons die sneeu in ons "agterplaas" (dis nou net hier buite Canberra)by Corin Forest gaan beleef... Dit was rerig pret. Die kinders was skoon uit hulle nate. En dit het 'n paar oulike fotos opgelewer.
 
Sneeuman is ook gebou. Gedoop "Priscilla"...stok-neus, lieflike hare en al!
 
 

Tuesday, 19 June 2012

Feetjieland




Al die tyd het ek nie geweet nie, maar ek bly in feetjieland!! Hier is net 'n paar van die asemrowende "sampioene" wat ek in my EIE TUIN raak geloop twee naweke terug toe ons die elemante getrotseer het en biki dooir blare weggeblaas/hark/vee het.

Thursday, 24 November 2011

Radarskerm

Sjoe ek het al amper vergeet ek het ‘n blog.EK het die laaste paarweke verwoed gewerk hier by die kantoor... daar moes ‘n tender uitgaan.
En na my Oostenrykse mede-werker/tikker-oor-die-vingeraar/verminderaar –van-eie-aansien soggens met my klaar was, nog skaars voor my handsak my tafel geslaan het... het daar maar min van my positiwiteit en vrolikheid oor die mooi nuwe dag oorgebly. Daarby het ek ontdek my geliefde Aldi-supermark het ‘n tak nie ver van my kantoor af nie, wat beteken ek kan oor  middagete biki retail-therapy inkry, al is dit net om tamaties en komkommers te koop. Die volk moet mos darem eet... en dis een manier om dit gedoen te kry. Kom juis nou net van die winkel af met 8 bokse ProNutro (teen ‘n skamele omgewerkte R66.32 elk) en drie kg boerewors (boorewoors)teen die onrespektabele bedrag van R141,10 per kg. Ja buiten dat mens kan sê life is tough, is dit ook ‘n geval van exi... soos hulle hier sê vir “expensive”
Met die tender wat uitgegaan het eht ek nuwe hoogtes van regulering ontdek. Jy My heel grootste GRIPE met die Ozzie-lewe. Alles, ja Alles is iewers erens in een-of-ander statutere dokument gereguleer ten opsigte van minimum standaarde, ge-ag-te-voldoen reëls en hoeveelhede om te verskaf. Ou maat, en jy sal daaraan gehou word, want daar is amptenare wat ‘n salaris verdien om jou op te check. Rerig. So na aan sosialistiese samelwing. So “big-brother-is-watching-you”. EK het selfs al op die internet opgespoor dat daar so ‘n beweging was met die draai van die eeu... jong manne is gelok om in die land te kom werk, en dan hopelik te bly as hulle eers die mooie(?1?) down-to-earth-Ozzie-meisies leerken het, en is dan elk ‘n “big-brother” toegestaan om hulle biki oor die weg te help met die “Ozzie-way”. Daai ou het dan gesorg dat jy alles REG doen. EK skat dis maar deel van die DNA van die volk. Hier aangekom as mense waaroor daar gewaak is ( being convicts) en kan nou nie daarsonder klaarkom nie.
Intussen het ek ook nuwe hoogtes van die uiters outydse program AutoCAD ontdek. Dis nou die een wat ek ken asof dit my tweede taal is... of liewer gedag het ek ken (deesdae is daar mos net een ding op almal se lippe...REVIT).  Ons mag NET in Poly-lyne teken. ‘n Single-line is almal se pet-hate. Ons gebruik x-refs vir alles, model-en-paperspace (wat vir my ‘n pyn was) is nou tweede natuur... maar niks kom by die protokol van uitreik van tekeninge nie. As enigeiets my blondheid bewys aan my Oostenrykse senior, dan is dit dat ek net nie die fyners nuanses van regmerkies en kruisverwysings in ‘n excel-dokument wat vir ewig verfyn is om elke moontlike aanspreeklikheid uit te skakel kan regkry nie. Ek wens elke keer ek kan liewers my toonnael teen die stoelpoot afstamp en na Emergency gejaag word met ‘n bloederige gemors, as om self die uitreik-dokument te moet saamstel/pdf. Dit sal nog seker gebeur ook as ek so praat. Genoeg van my lamentasies oor die werk(ers).
Andersins gaan die tyd deesdae soveel vinniger om...seker omdat die dae soveel langer is. Dit word regtig nou eers hier by 8.30nm donker. Die somer is hier, en Saterdag was dit bv 32 grade, met 75% humiditeit. Maar tipies Canberra is dit nou nie iets wat hou nie. Sondag het daar goeie reen uitgesak en sedertdien het ons nog net ‘n paar uur son gesien... en dis nou al Donderdag. Gisteraand was ons minimum temperatuur 4 grade, en ons max vandag is 17!... nie dat dit so reen dat die tuine gaan groei met mening nie. Maar slaap is darem baie lekker in sulke weer.
Canberra is amper in tip-top-shape. Ons het soveel belangrike kuiermense gehad die laaste tyd... ons voel skoon asof ons in ‘n wêreldstad bly. Eers het die Qween kom kuier.. ja Liesbet haarsigselwers was hier... en die ou oom ook. Tog nogals merkwaardig hoe die ou man al in die negentig is en sy diep in die tagtigs, en hulle reis nog dat die biesies bewe. Na die ou twee weg is, was Barak Obama verlede week hier. Sjoe... ek sal jou sê, Ancke was skoon verontwaardig omdat niemand die stormwaterslote gefynkam het vir vreeslike goed toe die Queen hier was nie... maar vir Mr.Obama het hulle poeliesmanne ingevlieg om die pad op te pas voor iemand dit oprol en wegdra en dan waarop gaan die ou ry? Die verkeer (ha-ha!?!?) het gaan stilstaan vir die “motorcade”. Die hele Hyat Hotel is ontruim, personeel ook, en Air-Force-One het die helfte van die Ameirkaanse staatsdiens ingebring, Bullet-proof-Cadilac en al. Ons het Sondag in die Hyat gaan koffie drink, en gesien hoe nie kiekoeioe-gras en die topiaries getrim is. Ons verwag nog een belangrike gas... Princess Mary. Dis nou die naaste wat die Ozzies aan Royalty gaan kom. Sy is getroud met Frederick van Swede, maar is ‘n Ozzie-meisie wat in Hobart, Tasmania gebore is. EK sal jou sê, sy is op die voorblaaie van al die tydskryfte... meer as Kim Kardashian (dankie tog!)
Man gepraat van kiekoeioe-gras... ek verlang daarna. Die reuk as dit gesny word, en as dit reen... mmm, ek rol sommer Januarie daarin. Hier is net sulke aaklige gevrekte ou grasse wat in polle groei, en amper stekelrig is, g’n grasperk om van te praat nie.
Ons het deur ‘n super-diep-drif van verlange gesleep die laaste paar weke. Waarskynlik ook maar die nadraai van Herman se onverwagse hartaanval. Maar ons is darem weer deur, en waarskynlik biki sterker. Selfs die kinders huil nie meer so baie nie.
Ek het onlangs Bill Bryson se boek “Down Under” gelees. Ek weet nie of ek dit moet aanbeveel nie. As enige van julle dit lees gaan julle dink ek bly is ‘n sort la-la-land. EK het darem lekker baie gelag... veral oor hoe hy Canberra beskryf. Hy is so vrek oor die land, tog tussen die lyne is daar ook heelwat kritiek. Maar all-n-all is sy opsomming dat Aus nie die “known-world” is nie, maar ‘n misterieuse groot kontinent op die rand van die radar... Seker die dat hulle so obsessief is oor hul eie dingetjies en manier-van-doen... want niemand anders gee eintlik om nie... so hulle sal maar.
Nouja groete dan hier van die rand van die radar-skerm af...tot later.

Monday, 10 October 2011

Die Konsert

Die konsert

Winkeltjie Sinkeltjie is ‘n klein winkeltjie in die agterstrate van Utrect in Sentraal Nederland. Dis waar ek en Herman eendag heerlik rondgesnuffel het tussen allerhande regte “gemors” en hier en daar baie oulike goeters, soos mooi Hollandse blikke en regte-egte Delft Kaasmesse.  Ons moes baie mooi besluit wat op aarde kan ons in ons “boks” terugstuur Suid Afrika toe.
Dis hier waar Herman een van daai Hollandse Porselein-teels met die regte Hollandse gesegdes raakgeloop het. Dit het gelui:
“Van het konsert des lewens, krijcht niemand een program”
Ek het nooit voorheen so baie daaraan gedink nie, maar die laaste paar dae het dit vir my so ’n werklikheid geword.

Dink nou maar as ons wel daai program gehad het... met watter ander uitkyk op die lewe ons sou rondloop. Buiten meer opwinding hier en daar, sou daar definitief ook meer angs gewees het oor die goed wat regtig angswekkend lyk en klink.

Ek meen nou maar.... wie van julle kan onthou hoe ek vir twee dae aanmekaar (ja regtig) gehuil het toe ek hoor dat ek swanger is met ’n tweeling. En toe die roller-coaster-ride met daai swangerskap, en alles wat daarop gevolg het. En kyk nou net waar sit ons vandag (Rina, hierdie deel was vir jou).

Verder sou ek regtig, ja regtig vir jou gelag het as jy twee jaar gelede vir my sou sê dat ek oor twee jaar in Australië sou WOON... nie vakansiehou, explore, kuier nie, maar WOON. Vergeet dit. Never. En tog... Kyk nou weer!

Maar toe gebeur die mees onwerklikste van alle dinge met ons hierdie week:
My Herman, ja die een wat getrou (come hell or high water) drie keer per week oefen, die een wat reg in die middel van sy bitong-snack by die rugby sal stop en sê: genoeg!, die een wat drie jaar gelede 25km in oop waters binne 8uur kon swem... ja daai een het Maandag in die einste swembad ’n hartaanval gehad. Bid jou aan. Nou wat kan mens daarop sê?

In ’n vinnige oggend gebeure het dinge in ons lewens ietwat verander. Nooit het ek beleef hoe iemand voor my na die kleur van woestynsand lyk nie. Nooit voorheen is iemand wat vir my meer kosbaar is as enige-iets op ’n stretcher in ’n ambulans ingestoot met paramedici wat rondom skarrel nie, nooit voorheen het Herman in die hospitaal gelê plat op sy rug, met pype en monitors nie. Skrik.

Ons mag nie meer “Tasty-cheese” gebruik om dinge smaak en Yum te gee nie. Ons mag nie meer Spek en ommelette twee keer elke naweek eet nie. Pizza is baie baie uit (?!?!) Ons kannie met die kinders gaan fietsry voor oor ’n hele ruk nie. Oh my goodness. Wat gaan aan?

Wat sou ons anders gedoen het as ons sou weet?
EK weet nie.
Al wat ek wel weet is dat mens regtig met meer aandag moet luister as die Bybel goed sê: Moenie sê more sal ons dit doen dan volgende week dat nie. Want jy weet wragties nie hoe dinge gaan verander nie. Net ons Meester weet. En gelukkig sê Hy ons nie voor die tyd nie.

Van die konsert weet ek dit:
Hoe langer mens jou instrument bespeel, hoe beter raak jy met bladmusiek. Die wat in die middel van die konsert aan die slaap gaan raak en net saggies saam-humm, gaan onverhoeds betrap word en uitgevang raak.

So: Hou aan speel, lees die musiek, gooi jou hart en siel in die beweging in, en speel met passie voort, die area kan ’n blitsvinnige toonsoort verandering maak!
Aan die einde van die konsert lê daai magic oomblik voor:
Die buiging onder applous, saam met die Konsertmeester.

Thursday, 22 September 2011

nooit te oud om te leer nie....

EK het al klaar weer ‘n paar goed geleer vandag...en ek is nog nie eers weer ‘n jaar ouer nie.
·         Mens het getalle nodig vir ‘n fees
·         ‘n paar hoë hakke, selfs net beskeie espadrilles (@$5.00) doen nogals die ding om mens net daai edge te gee om die wêreld bietjie meer uit die hoogte aan te kyk! Selfvertroue girls!!
·         Neem die voortou...ander gaan nie ekstra vriendelik teenoor jou wees en effort insit om jou te leer ken nie, maar as jy eerste gaan, dan volg hulle (net soos die skape op die uitgestrekte Drogeuda...hie-hie, wie onthou?)
·         Roetine help met die behoud van ewewig.
·         Hoe later jy uit die kooi uitkom, hoe later gaan jy by die werk opdaag.
·         Dis balsem vir die siel om jou geliefdes om jou te hê.
·         Vriendinne maak mens warm....
·         Suid Afrika se inheemse blomme is asemrowend en vlieg vêr oor die wêreld om my hartjie hier onder te kom gelukkig maak.
·         Soetgoed alleen stil STEEDS nie die aptyd vir KOS nie, selfs nie eers New York Cheesecake nie.
·         Al dink jy in jou kop en voel in jou hart soos die trotse jong mamma van die mooiste babatjies in die wêreld, is dit die spieël wat die finale word spreek.
·         Jou huis is waar jou hart is, maar dis ook waar: Jou hart moet wees waar jou huis is.
·         Hou altyd die blink kant bo, en hou ook die bokant blink.
·         Al is “money tight” spandeer die geld, en koop die heel beste wat jy kan met jou swaar-verdiende dollars/rande sover dit nekroom, vogroom, oogroom, handeroom, hare-room en roomkaas aanbetref.
·         Facebook is ‘n wonderlike medium om te help dat jy vrolike verjaardagwense  van mense oor die hele wereld ontvang en dat dit heerlik is om so bederf te word.
·         Beskeie lentebloeisels gaan verder as bosse van die duurste bloemiste-snyblomme om die hart en huis van ‘n verjaardag-meisie warm te maak.
·         Wees net jouself, mense sal jou so leer liefkry.