Monday, 10 October 2011

Die Konsert

Die konsert

Winkeltjie Sinkeltjie is ‘n klein winkeltjie in die agterstrate van Utrect in Sentraal Nederland. Dis waar ek en Herman eendag heerlik rondgesnuffel het tussen allerhande regte “gemors” en hier en daar baie oulike goeters, soos mooi Hollandse blikke en regte-egte Delft Kaasmesse.  Ons moes baie mooi besluit wat op aarde kan ons in ons “boks” terugstuur Suid Afrika toe.
Dis hier waar Herman een van daai Hollandse Porselein-teels met die regte Hollandse gesegdes raakgeloop het. Dit het gelui:
“Van het konsert des lewens, krijcht niemand een program”
Ek het nooit voorheen so baie daaraan gedink nie, maar die laaste paar dae het dit vir my so ’n werklikheid geword.

Dink nou maar as ons wel daai program gehad het... met watter ander uitkyk op die lewe ons sou rondloop. Buiten meer opwinding hier en daar, sou daar definitief ook meer angs gewees het oor die goed wat regtig angswekkend lyk en klink.

Ek meen nou maar.... wie van julle kan onthou hoe ek vir twee dae aanmekaar (ja regtig) gehuil het toe ek hoor dat ek swanger is met ’n tweeling. En toe die roller-coaster-ride met daai swangerskap, en alles wat daarop gevolg het. En kyk nou net waar sit ons vandag (Rina, hierdie deel was vir jou).

Verder sou ek regtig, ja regtig vir jou gelag het as jy twee jaar gelede vir my sou sê dat ek oor twee jaar in Australië sou WOON... nie vakansiehou, explore, kuier nie, maar WOON. Vergeet dit. Never. En tog... Kyk nou weer!

Maar toe gebeur die mees onwerklikste van alle dinge met ons hierdie week:
My Herman, ja die een wat getrou (come hell or high water) drie keer per week oefen, die een wat reg in die middel van sy bitong-snack by die rugby sal stop en sê: genoeg!, die een wat drie jaar gelede 25km in oop waters binne 8uur kon swem... ja daai een het Maandag in die einste swembad ’n hartaanval gehad. Bid jou aan. Nou wat kan mens daarop sê?

In ’n vinnige oggend gebeure het dinge in ons lewens ietwat verander. Nooit het ek beleef hoe iemand voor my na die kleur van woestynsand lyk nie. Nooit voorheen is iemand wat vir my meer kosbaar is as enige-iets op ’n stretcher in ’n ambulans ingestoot met paramedici wat rondom skarrel nie, nooit voorheen het Herman in die hospitaal gelê plat op sy rug, met pype en monitors nie. Skrik.

Ons mag nie meer “Tasty-cheese” gebruik om dinge smaak en Yum te gee nie. Ons mag nie meer Spek en ommelette twee keer elke naweek eet nie. Pizza is baie baie uit (?!?!) Ons kannie met die kinders gaan fietsry voor oor ’n hele ruk nie. Oh my goodness. Wat gaan aan?

Wat sou ons anders gedoen het as ons sou weet?
EK weet nie.
Al wat ek wel weet is dat mens regtig met meer aandag moet luister as die Bybel goed sê: Moenie sê more sal ons dit doen dan volgende week dat nie. Want jy weet wragties nie hoe dinge gaan verander nie. Net ons Meester weet. En gelukkig sê Hy ons nie voor die tyd nie.

Van die konsert weet ek dit:
Hoe langer mens jou instrument bespeel, hoe beter raak jy met bladmusiek. Die wat in die middel van die konsert aan die slaap gaan raak en net saggies saam-humm, gaan onverhoeds betrap word en uitgevang raak.

So: Hou aan speel, lees die musiek, gooi jou hart en siel in die beweging in, en speel met passie voort, die area kan ’n blitsvinnige toonsoort verandering maak!
Aan die einde van die konsert lê daai magic oomblik voor:
Die buiging onder applous, saam met die Konsertmeester.

Thursday, 22 September 2011

nooit te oud om te leer nie....

EK het al klaar weer ‘n paar goed geleer vandag...en ek is nog nie eers weer ‘n jaar ouer nie.
·         Mens het getalle nodig vir ‘n fees
·         ‘n paar hoë hakke, selfs net beskeie espadrilles (@$5.00) doen nogals die ding om mens net daai edge te gee om die wêreld bietjie meer uit die hoogte aan te kyk! Selfvertroue girls!!
·         Neem die voortou...ander gaan nie ekstra vriendelik teenoor jou wees en effort insit om jou te leer ken nie, maar as jy eerste gaan, dan volg hulle (net soos die skape op die uitgestrekte Drogeuda...hie-hie, wie onthou?)
·         Roetine help met die behoud van ewewig.
·         Hoe later jy uit die kooi uitkom, hoe later gaan jy by die werk opdaag.
·         Dis balsem vir die siel om jou geliefdes om jou te hê.
·         Vriendinne maak mens warm....
·         Suid Afrika se inheemse blomme is asemrowend en vlieg vêr oor die wêreld om my hartjie hier onder te kom gelukkig maak.
·         Soetgoed alleen stil STEEDS nie die aptyd vir KOS nie, selfs nie eers New York Cheesecake nie.
·         Al dink jy in jou kop en voel in jou hart soos die trotse jong mamma van die mooiste babatjies in die wêreld, is dit die spieël wat die finale word spreek.
·         Jou huis is waar jou hart is, maar dis ook waar: Jou hart moet wees waar jou huis is.
·         Hou altyd die blink kant bo, en hou ook die bokant blink.
·         Al is “money tight” spandeer die geld, en koop die heel beste wat jy kan met jou swaar-verdiende dollars/rande sover dit nekroom, vogroom, oogroom, handeroom, hare-room en roomkaas aanbetref.
·         Facebook is ‘n wonderlike medium om te help dat jy vrolike verjaardagwense  van mense oor die hele wereld ontvang en dat dit heerlik is om so bederf te word.
·         Beskeie lentebloeisels gaan verder as bosse van die duurste bloemiste-snyblomme om die hart en huis van ‘n verjaardag-meisie warm te maak.
·         Wees net jouself, mense sal jou so leer liefkry.

Tuesday, 20 September 2011

waar om te wees in 'n noodsituasie

Al ooit gewonder of daar enige plek op aarde is waar “nood-planne” in “nood-situasies” regtig inskop en/of werk?
Ek onthou nog daai wonderlike aankondigings dat ons nou eers die noodplan gaan oefen en dan moet die hele skool al giggelend die skool ontruim, en ge-orden rugbyveld toe stap, daar is ‘n “bom”. Yeah dan kry ons ‘n break om aan te jaag. EK meen te sê wie op aarde gaan dink aan wat die regte manier is om as ‘n groep normaal en ordelik op te tree as daar regtig ‘n bom ontplof, of ‘n brand uitbreek. Almal gaan so vinnig moontlik net snol vir die uitgang! En die gebruiklike ou grapmakers gaan eers rondstaan en kyk of daar nie iets regtig snaaks is waarvoor hulle die situasie kan uitbuit nie. EK moet sê ek het al by tye self koud geword as ek wonder wat sal ek en my gesin aanvang as so iets hier by ons huis moet gebeur soos ‘n brand of so... as ek net sien hoe die lede van my gesin heeltemal vries en verstar as daar iets gebeur soos ‘n beker warm koffie wat op die mat omval.... wel dan vertel ek maar vir myself soos ek altyd doen as ek nie die antwoord het nie “we’ll cross the bridge when we get there”.
Die hengse lang aanloop is om te vertel dat ons net reg was om skooltoe te ry vanoggend toe ons ‘n foon-oproep kry: Geen skool vandag nie, daar is ‘n Chemical fire in die omgewingen die skool is gesluit. Ons gaan toe almal aan die giggel vir die vreeslik oordrywende Aussies. In die kar hoor ek dat  al die skole aan die noorde kant  -van die meer- vir non-Canberrans, (en ons bly suid) gesluit is, en busdienste is opgeskort, en selfs die Maccas (MacDonalds-vir non-Canberrans) is gesluit.  By die werk gekom moet ek toe hoor dat almal wat aan die noorde kant bly tot DRIE sms’e gekry het deur die nag van die Brandweer-dienste af, met waarskuwings om die vensters en vents toe te hou en nie uit hulle huise te kom vir die dag nie. Nou goed, dis ernstig. So ek kyk toe en lees daar was groot dromme transformator-olie en sodium-poeier wat ontplof het en dat daar 20-30 ontploffings was binne 35 min. Die brandweermanne moet skoon rittereer, dit was te erg. Sjoe!
Die groot vraag is , waar op aarde het jy al van ‘n gerekenariseerde en tele-ge-koordineerde databasis gehoor wat so op datum is, dat dit die hele lot huis-eienaars van elke moontlike voorstad in die noorde bereik kan word in ‘n noodsituasie en binne minute oor die gevare en genoodsaakte optrede  ingelig kan word per sms (skuus text)???
Net in Canberra.... die mees burokraties ontwikkelde plek in die wereld!!!! wat  nie deur mense nie, maar deur red-tape aanmekaar gehou word.

Friday, 9 September 2011

die pad na die hart

Van al die onafwendbare dinge in die lewe
    soos die feit dat almal maar eendag doodgaan,
      dat almal elke dag een dag ouer word,
        dat niemand beheer het oor waar en aan wie hulle gebore word nie, is daar een wat uitstaan:
...........Almal moet eet!
In ons huishouding het ek tog maar besef dat die ou spreekwoord waar is, maar uitbreiding nodig het:
Die pad na man, vrou en kind se hart loop deur die maag "
Ons het mos die groot vreugde om ouma en oupa hier te hê vir ‘n maandlange kuier. Arme oups moet als wat stukkend is regmaak en doen dit met oorgawe. Ouma aan die ander kant, moet kook en bak dat die stoom trek vir haar akkomodasie.
En ja...dis asof daar ‘n nuwe hup in die stap van elke lid van ons huishouding is. En hoe dan anders met  die smake van tuisgebakte Gemmerkoekies, Soetkoekies, Beskuit, pangebraaide vis, “sous-hoender”, melktert, sjokolade-verjaardag-koek...alles soos net ouma dit kan maak. Die immer-keiskeurige-Michael het selfs met lus weggelê aan (dieselfde) wors wat ouma in die pan gebraai het, asof ons terug in die ou dae is.
Huiskos, maak van ‘n woning ‘n huis!
Om die wêreldbeker Rugby  en die seuns se tiende verjaardag te vier word die naweek afgeskop met tuisgemaakte hamburgers en chips en sal daar oor die naweek ‘n tradisionele braai gehou word, kompleet met pap, braaibroodjies en roomys vir poeding.
Eish...amper voel ek tuis!!!
Geniet saam met ons,
Liefde,

Monday, 22 August 2011

Ek het my PIPS gekry!!

Great hê?! En neee.....dis nie ‘n rang nie. Nogals jammer want wie ‘n rang het , het die kans om te kan “rang-trek”. Maar heellaas nie.
 PIP staan vir “Parent Involvement Hours” en is ‘n oulike konsep wat Ancke se skool gebruik om ‘n soortvan “hidden Cost” in die skoolgeld in te werk. Ja elke ouer is verantwoordelik om 25uur se tyd aan die skool af te staan. Mens kan verskeie dinge doen om die ure “af te werk” soos kaartjies verkoop by die kermis, boeke oortrek (ja, hulle stuur die nie net huistoe met boetie nie, want dan lyk die groep s’n nie eenvormig nie!) waaraan ek 6 ure oor die naweek afgestaan het.
 En dan is daar die WORKING BEE, in die Collins Dictionary beskryf as “a voluntary group working together for charity”. Interessant. Dit was nie voluntary nie, maar uit plig. Nie charity nie maar vir die geldkas. Sien, as jy nie lus het vir die afsloof van die working bee nie, dan kan jy altyd die $35/h betaal in kontant (R511x25=R12 775) Nouja, nie die keuse wat ek met my salasris uitoefen nie. Toe gaan ek maar Saterdag-oggend 9h00 skooltoe . Ek dink Lettie sou geweldig trots gewees het op haar protégé. EK het gestofsuig dat die klap. Die skoolsaal is afgestof, gevee, daarna gestofsuig en ge-mop. Blink gelaat na 1,5 uur. Ons was 3. Daarna het ek die binnehof met besem aangedurf. Het julle onlangs plaveisel met ‘n groot besem bygekom. Man gym is onnodig. Met al die sand, blare, grond ander vuilgoed opge-graaf en weggedoen het ek die paadjies om die geboue aangedurf, en daarna ‘n hele vleuel se vensters gewas. Teen 13h00 het hulle die oggend gesluit verklaar en dank die hemel tog ook maar, want anders sou ek wragties nog stywer gewees het Gister. Dit het my sommer baie oud laat voel.
 Op die einste punt van oud. Die ouens oor die radio my stasie (Mix-1-0-6) het vanoggend hierdie interessante gesprek: wat maak mens “oud voor jou tyd”? Toe kom daar goed soos “transition spectacles”, sekere kleredrag en skoene met zippers... ja julle ken dit, daai pantoffel-agtige skoene met die gebreide bokante en die zipper voor-in-die-middel. En iemand sê toe nee dis daai stupid taalgebruik van die jongmense wat hulle crazy maak, en laat besef dat hulle nou oud word.
Ek is dus nou amptelik OUD!
Check this out:
Yeah, Sose to heeea bout the dramar yous had  in Tuggers theees arvo. Yeaaeh, awas totes a devo bout it!
Overgesetsynde: “So jammer om te hoor van julle ongeluk in Tuggeranong(voorstad) vanmiddag, ek was verpletter deur die nuus”
Sose, Totes, Yous, Devos.....
En  dan is daar maar net al die ander algemene “terme” en afkortings wat die mense oor die algemeen gebruik: Arvo (afternoon), Uni(university),  Subi(Subaru...almal se gunsteling kar), Lippy(lipstiffie), Sunny(sonbril), Ambo(ambulans), Salvo(salvation army), Maccaz(macdonalds), BYO(bring-your-own...dis nou as jy restaurant toe gaan, om jou eie wyn te bring), RBT(random breathelizer test...op die pad), Chewy(kougom), Chrissie(kersfees), Bottle-O(drankwinkel), Brizzie(Brisbane), Barbie(braaier), Cab-sav(rooiwyn), Exy(duur),
Man, in Pretoria sou ons sommer gesê het hulle is kômmin met ‘n k. O en die uitspraak is ‘n dolligheid. Soms mis ek heeltemal wat hulle sê omdat alles wat ons as “ ‘n” (e) sou uitspreek by hulle ‘n “ie” is. Soo bv. Die woonbuurt Flynn, wat hier Flieen is...dis crazeeee.
Elk geval hier is die bome nou die ene bloeisels. EK weet eerlikwaar nie hoe om daaroor te voel nie, want in SA het bloeisels daai opgewonde wip-in-die-stap-gevoel by my gebring, maar ons temperatuur was gister ‘n skitterende 10 grade en sover vandag het ons nog net tot by 11 ( van die voorspelde 13,5) gevorder. So ek werk nog aan die koms van die wip-in-die-stap.
Met al die by-kryery is daar ook nog al die verloordery. EK het my beste swart baadjie verloor, omdat mense hier so aandring daarop dat hulle jou baadjie vir jou ophang by die “coat rack”, en dan vergeet jy dit. Met die teruggaan op die spore het ek absoluut niks wysgeword nie. Ook het ek my valstanne (die “retainers”) probeer eksta skoonmaak deur dit in warm water met koeksoda te week. Toe ek weer wou insit, was dit ‘n paar nommers te klein gekrimp. Net $130 skade.
My arme ego het ook ‘n geweldige knou en verlies aan waardigheid oorgekom. Ons is besig met ‘n opleidingskursus in Revit, nuwe CAD-program, wat vir my ore aansit, en net met my brein REV as jy my vra. Die klomp jonges hier op kantoor het die grootste prêt, hulle dink dis ‘n plesierigheid, maar ek sukkel my aja af.
Michael het sy eerste oogtand verloor. Wat ‘n drama was dit die afgelope twee weke, omdat mens nie eers jou gewone stapelvoedsel van bake-beans kan eet as jou tand so los en geweldig pynlik is nie. Gelukkig verdwyn die pyn onmiddelik as dit visvinger-en-tjips-aand is. En wanneer daar roomys is weet niemand waarvan jy praat as jy seer-tand sê nie. Gelukkig het die tandmuis-cum-kerkmuis ‘n $5-noot in sy reserwes gehad vir die gebeurtenis.
Al die “verliese” inaggeneem gaan ek my gladnie daardeur laat beroof nie. Want net as ek wil murmereer dan onthou ek dat dit vandag nog net 11 slapies is voordat my liewe ouers kom kuier. Man daar kom die huppel-in-my-stap met oordaad terug!
Tot later!

Tuesday, 9 August 2011

ek MIS dit en mis dit NIE ek Mis dit

Nie te lank nadat ons weg is en hier aangeland het nie, het ek eenkeer vreeslik selfvoldaan vir my ma geskryf dat ek regtig niks mis behalwe die mense waarvoor ek so lief is nie. In haar groot wysheid merk sy toe op dat ek miskien moet stadig met wat ek mis en wat nie. ..“Gee tyd my kind”. Ja en daar sit ek nou. Riette het vir my geskryf ( ja Pretoria... as jule al ooit gewonder het of dit kan sneeu daar... daar is nou ‘n kans) en gevra: Wat mis jy en wat mis jy nie? Dit was enigmatiese woorde, want dit het my kwaai  aan die dink gesit. Noudat ek gedurig ingedagte is het ek besluit om te begin neerpen... en hier volg dit.

Wat mis ek:
ek mis Afrikaans
ek mis...
·         My huis, met wye oop areas, baie lig, groot kombuis, spenskas, dubbeldeure, bay-windows, tuin...stop! STOP!
·         Die grasperk...however klein
·         Lettie, nie vir die werk nie, vir die gesels, sy het my lewe wyer gemaak, sy is 'n amazing Christen.
·         Constantia Market Gardens... met Maria (my friend!!) Albert, John... en hope vars groente en vrugte, veral stroopsoet pyn appels, spanspekke, beet en Piesangs. Die pynappels hier is meestal suur. Die beet kos hulle gewig in goud, en die piesangs kos so R110,00/kg. Die rede vir die duur prys is die vloede in Queensland wat in Januarie bykans al die piesangplantasies uitgeroei het.
·         TAB, Water hier is lekker soet en drinkbaar.... maar Herman was mos maar kwaai oor sy “black gold”
·         Newlands Spar. EK het presies geweet waar is alles. DIt was so bekend, en ek het die mense wat daar werk geken, en hulle vir my, ons het altyd lekker gegroet!
·         Die uiters vriendelike dierbare swart manne daar by WaterGlen Postnet, waar ek al my stationary en printwerk gedoen het. Daar was altyd ‘n grappie, ‘n geselsie.
·         Menlopark Laerskool... en veral die lekker kuiers en gesels by die herwin, rooshek, bid-groep, en die juffrouens. Die swembad wat my laat dink aan somer.
·         Die reuk van die grasperk as dit gesny is deur liewe Gabriel, ja en hom ook.
·         Braaivleis... en alles wat daarmee gepaard gaan, veral Groenkloof Boerewors.
·         Ek mis Ocean Basket, Cappucinos, Tennisbeskuitjies en Mr.Sweet Nougat.
·         Ek mis Woolies vir kos, klere en veral kinderklere. Mr Price Home, Pepstores.
·         Ek mis Sarie-Kos, Idees-tydskrif,  Radio 702, John Robby, David O'Sullivan en selfs Jacaranda, veral Diane en Darren soggens... ek mis 'n sin vir humor
·         Ek mis die BlouBulle....daai gesigte wat soos eie vriende voel... Victor, Morne, Wynand... gits ek mis selfs ‘n paar Stormers en Sharks-gesigte!
·         Ek mis die aanddiens by Oosterlig, N.C. se Band.
·         Vol sinne met vol woorde: hierdie een verdien sy eie skrywe!
·         Politiek... by die kerk, die skool, die kantoor  in die land...ag noem dit!
·         My grootgenoeg ingeboude kaste en ruim en-suite badkamer.
·         My kinders se slaapkamers.
Wat/wie ek die meeste mis:
My mense, my ouers, my familie, ons vriende en my  vriendinne, my kinders se maats, en hulle ouers, en die swemmers se ouers, die mense in die gemeente, Herman se kollegas en die kerkkantoor-personeel, tannie Magdaleen en Tannie Janine.

Wat mis ek nie:
·         Die beams wat altyd gestel moet wees.
·         Die vullis wat net SOMS gehaal word, of soms vir ‘n paar ekstra dae daar staan
·         Die sluit agter jou,konstant.
·         Liewe Julius...
·         Fotos van dooie Renosters met gapende, bloedlopende  wonde aan hulle snoete en oumense wat huil deur blou en bloedbelope oë oor ‘n lewensmaat se dood.
·         Die tydig-en-ontydige gelui vban die voordeurklokkie, en dan staan daar een van die gereelde en soms net ‘n totale onbekende gesig van ‘n bedelaar, met of sonder ‘n lys. Nie dat ek omgegee het om te help nie, net dat daai gevoel van hulpeloosheid en die weersin om gekonfronteer te word met ander se hulpeloosheid midde-in jou goed-voorsiene lewenstyl....en die onwete of dit help of vererger?
·         Die taxis wat ‘n bestuurstyl van hul eie het.
·         Die pretensie van Pretoria-Oos
·         Die gedurige hoop dat daar weer ‘n job sal inkom.

Wat ek gaan mis as ek die dag Canberra moet verlaat:
·         Heldergroen, -blou en –rooi pappegaaie in die bome van my “tuin”. Groot vet wit Cockatoos met geel kuiwe wat vreeeeslik raas as hulle vlieg, ons eie hadedas.
·         Mense wat net so total en al “oor hulself gekom het”...wie gee om as jy in jou knypbroek wil loop, of ‘n hoed en pak wil dra soos my oupa het en dan ‘n pienk stootwaentjie wil stoot vir vyf kilometer, of daai ou wat sneeuski’s met wiele onderaan gebruik en homself op die fietspad werk toe “roei”.
·         Ziplock sakkies in ELKE grootte.
·         Die pas en wetsgehoorsaamheid op die pad en die verkeer (eintlik gebrek daaraan).
·         Aldi... my supermark.
·         Fietse... baie daarvan, vinnigers, stadiges, die met stoeltjies vir babas op, die met klein sleepkarretjies aan waarin kleuters saamry.... en hulle is veilig... niemand gaan hul platry nie... selfs op die snelweg.
·         Flat whites...filterkoffie met warm gestoomde melk...iets tussen 'n latte en Cappucino
·         Sentrale “ducted Heating” in die huis.
·         Commomwealth Bridge
·         Herfsbome
·         Geskeide vullisblikke
·         Katie...die blou Holden Zafira
·         Die feit dat dit o.k. is om te vergeet om te sluit
·         ‘n Halfdag-vyfdag-kantoorwerk.

Geezz louiiize.....EK beter nou stop en raak neuroties. Seeyalada. H

Monday, 8 August 2011

bush-capital

Hier is ek weer met nuus uit die nimlike Oz.

Vanoggend ry ek werk toe en vergaap my aan die besonderse name van die verskillende voorstede waardeur ek ry. Hoe klink die volgende vir julle? Weetangeera, Jerrabomberra, Narranda, Goonawarrara, Kajuligan, Narabunda, Yarralumla, Coleanbally, Ghungalin, Quaenbeyan, Majura, Tidbinbilla, Namadgi Woolongong, Ipima, Geeraween.... en so kan ons aangaan. My algemene afleiding is dat dit uit die Inheemse mense (Aborigine) se taal kom.
Die name klink egter baie meer kleurvol as wat die plek self is. Verlede somer was die eerste nat een na sewe maer jare van Verskriklike droogte. Dit het blykbaar regtig byna niks gereen behalwe sulke stofnat-buitjies vir die sewe voorafgaande jare nie. ‘n Mens kan werklik die effek daarvan nounog op die tuine en parke van die stad sien. Die bome is ook regtig nie iets wat die gemiddelde Suid-Afrikaner geweldig opgewonde sal maak nie. Meestal so ‘n donker Vaal-groen kleur, en nie baie dekoratief nie. Soos julle seker weet is Oz meestal bekend vir sy Eucalyptus bome. Daar is bv een plek in die botaniese tuine waar mens op so ‘n oop piekniekplek kan staan en op een slag 72 spesies Eucalyptusbome kan sien. Altesaam is daar oor die 600 spesies. Die koppie hier reg oorkant ons huis is heeltmal oortrek met ‘n seker spesie. Die donker-groen bome staan so dig opmekaar dat dit swart lyk. Gevolglik is die kop se naam Black-mountain.

Dan is daar die Blue Mountains. In New South Wales, maar steeds naby ons.‘n Gunsteling vakansie-destinasie vir baie, amper soos onse mense Drakensberge toe sal gaan vir ‘n vakansie. Sover klink die lot maar baie onkreatief met hulle naamgewing nê? Maar laat ek julle vertel. In die laatmiddag hang die “Eucaluptus-olie” in klein partikels so dig in die lug bokant die blue mountains, dat die van ‘n afstand af werklik blou vertoon. Die dat dit toe nou “Blue Mountains” heet.
Canberra staan juis bekend as die Bush Capital. En ek moet se dit maak dit vir my baie mooi. Oral waar mens by ‘n koppie of ‘n oop stuk skuinste verbyry, staan daar jong boompies met beskermende paaltjies en seil om. Om dit te beskerm teen die winde en koue. Hulle beplant en beplant. Ons het ook sommer twee arboreutums.

Eending wat ek nogals lag oor kry is die Wattle. As ek dink aan “wattle” dan dink ek aan die uitroeings-ekspidisies van die voortrekkers. Ai daai black wattles wat Pretoria so vervuil! Hier is dit egter...hou vas aan julle stoele... die nasionale blom. Ja daai goudgeel blomme is ons nasionale blom. Ek wens hulle het dit maar gelos soos dit was (tot drie jaar terug) toe die Waratah ons nasionale blom was. DIt is  nou ‘n mooi bleom, lyk baie soos die protea. Geharde rooi blom, pragtig.
En dan weet julle natuurlik dat hierdie plek in ‘n sprokiesparadys verander oor Herfstyd. Duisende bome, elk met sy eie herfskleur. DIs werklik besonders.
Genoeg nou eers oor die dorp, ekskuus stad..uh, hoofstad.

Kom ek vermaak julle deur julle voor te stel aan die mense in my nuwe kantoor. Ons begin dan maar by die voordeur en werk onsself deur na die agterkant van die kantoor toe.
Die kantoor is verdeel in twee dele. Fisies ook in twee dele maar heeltemal accessible van albei kante af... die grils in die Pepperment Room het net hulle eie voordeur met signage op.Die argitekskantoor (Small Qinton Coleman Architects... of soos hulle praat SQCA) en die Interieur ontwerp kantoor ({welcome to} the Peppermint Room... gebruik husky voice hiervoor). By SQCA is daar die twee kantoor-personeel-dames, twee direkteure, Een senior Architect, drie graduate Architects en EKKE. Net ek en die k-dames is van die vroulike geslag
EK is nie eintlik seker waar ek inpas nie behalwe dat ek nie meer deurgaan as Graduate nie, want ek was darem al in my lewe geregistreer (erens in die derde wereld ja)  maar mag ook nie myself architect noem nie, want ek is NIE by die AACA geregistreer nie.Die belangrike registrasie deel is ok steeds ‘n nagmerrie... maar vir ‘n ander dag. Suffice to say... dis nie net papierwerk nie, en hulle dink niemand anders is heeltemal so bekwaam as hulleself (lees “ons werklik oulike Aussies”) nie.
Die dames: Miss Gravity en die RSM. Almal wat erens in hul lewe tedoene gehad het met die weermag sal weet dat ‘n RSM nie die mees geliefde outjie op die basis is nie. Hy praat hard, afgemete en is IN BEHEER!! So ook ons geliefde Anette... aka Office Manager. Geez... sy’t een van daai oorstukke wat soos die Bluetooth-oorbelle lyk wat die ouens hier aan die beginjare in SA met hulle selfone gebruik het. So loop sy ( nee march) deur die kantoor en begin net skielik hier langs jou praat (nee bulder), dan het sy maar net die foon geantwoord. Sy’s nie so sleg nie, maar gaan gelukkig einde van die maand weg, en ek hoop ons kry dan iemand wat my nie soos ‘n skoolmeisietjie sal aat voel nie. Selfs by die Prayer meeting Maandag-oggend het ek gevind dat wanneer sy met die Here praat verander haar styl ooknie. Gelukkig kan niks Hom intimideer nie!
Miss Gravity het biki probleme met genoemde Gravity. Alles sak af na die gedeelte tussen die knieë en die diafragma. Tog snaaks, ek het 'n dubbelken, en bol-wange, en flabby bo-arms, maar party mense raak net op een plek rond! Shame Sy is die dierbaarheid van self, maar jy wil nie saam met haar in die kombuis betrap word nie. Al die massas maak dit blykbaar moeilik om die “lug” binne te hou. Sys is ook nie ‘n “miss” nie, maar ek is seker sy is jonger as ek, alhoewel haar tienerseun, ek skat hom so 16, nou al ‘n paar dae saam met haar kom om te help met die Archiving. Ai die omslagtige en presiese maniere van doen, maak dit moeilik vir eens mens om deur alles te kom.

Dan is daar die ander manne Softly, Murray ek weet nog nie so lekker van hom nie, Arnie- Soos in Arnold Schwarzenegger, Herr Hahn, Flynn McMissile,  en ...good onya Darren!!! Die girls langsaan is : Atomic Bomb, Psycadelic Flower, en dan is daar Penny en Katrina wat net nou-en-dan gesig wys.
Softly:  Ook bekend as Rick Small. op die oogaf definitief ‘n soeitjies-p@#P soos die oumense gesê het. Mens kan miskien sê, small-ly spoken eerder as softly spoken. Die man praat sooo saggies en versigting. Maar hy lyk heeltemal in beheer...
Murray: Die ou gee my biki die jitters. Het doktorsgraad in Arch en is advanced gekwalifiseer as Access-consultant. Dis nou iemand wat weet hoe die toeganklikheid vir gestremdes van ‘n gebou opmeet teenoor die re-gu-la-sies. Ai die eeeewige regulasies. Hy is in sy vyftigs soos die ander ou, spierwit grys, dra sy hare kort-pennetjies en ry motor kompleet met tailfin, dropped suspention en front-rear-spoilers. Trek verkieslik swart aan, ek verkies dit ook so omdat hy soos ‘n spook lyk in room, soos vandag, want ALLES is wit. Die ligte vel en deurskynende blou oe help ook nie. Hy is biki moeilik, en biki van ouman. nHy en Arnie het mekaar juis gister amper hier voor ons almal biki gevat. Moeviese clash of personalities.

Arnie: Die ou onder wie se vlerk ek my (onwille)keurig bevind. Duitser van geboorte maar sien homself as Austrian, waar hy grootgeword het. Bly vyf jaar in Oz, met Tasmanian vroutjie getroud, Mr. Know-it-all, oftewel Know it HOW. Maar hy het eintik maar soos alle Duitsers maar net die inklenasie om dinge op die “REGTE” manier te wil doen (volgens hom). Dit is nou juis waaroor die byna-onderonsie gegaan het. Hy het darem ook ‘n sagte hart. Het bv. Vir my ‘n kamera persent gegee, toe hy hoor ek het myne laat val en het nou niks. Hy kom sommer die volgende dag hier aan met Petntax, miken druk, kompleet met kabels en die lot. Sê dis sy oue, hy het hom nie meer nodig nie. Nice nê.
Herr Hahn:Klien Duitse mannetjie. Praat net wanneer mee gepraat word. EN antwoord dan in enkel-woord-sinne. Fikse fanatikus en ry in die -5 oggendure, 20km per ren-fiets werktoe. Verklee dan rustig en werk voort in sy snyers-jeans en swartraam-brilletjie.

Flynn...soos in “Flynne McMissile” van Cars faam. Met ‘n naam soos Asley Martin...wat klink soos Ashton Martin... laat hy my daaraan dink. Ook ‘n smooth operator... ook heeltemal TE konsensieus... veral met die toepassing van die re-gu-la-sies!!!
Good-onya-Darren...Soos die naam sê: Good-onya. Lyk biki soos Pinnochio, en was voorheen “used car-salesman” van Subaru’s. Nou hard aan die werk om “voor te kom” in die kantoor. Julle ken mos sulke mense.

Atomic Bomb:... kleine Gemma. 1,5 bakstene hoog... en die stem en chutzpah van ‘n amasone. Ek kan maar net verstom staan. Sy is 27, maar regeer die interieur-kantoor soos aantie Margaret vanmelewe.
Psycadelic Flower: Beweeg deur die kantoor soos ‘n giraffe, met die haredos van ‘n garden-variety “fox”. Bloed-bloed-rooi. Vyftien-lae ooggrimering en dromerige styl van praat. Herinner sterk aan Phoebe van “Friends”..... (Ja daar is nou die negentiende re-run daarvan op ons plaaslike stasie)....streetsmart, ditzy en biki van ‘n hippie.
Nou dis die lot.

Ek het verlede week my eerste “Presentation” gegee. Op Ingels I’ll have you know. En Arnie het my daaroor gekomplimenteer. Soos Herman sê, ag as hy maar moet weet watter Afrikaanse-ouman-heethoofde van ‘n kerkraad jy moes deurwerk sal hy regtig lag. Die voorlegging ( ja baie ernstig) was vir die opgradering/herinrigting van ‘n skool kantien-cum-snoepie-cum-kombuis. Wow. Maar ek was dan glads senuwee-agtig. Ha-ha. Gelukkig is dit nou klaar, en het goed afgeloop. EK en Arnie vind mekaar al amper, en ek is heel tuis by die werk. Ek wil net noem dat Menlopark ‘n groot indruk op my gelaat het: EK het ‘n spesiale klein kamertjie ingerig wat na die gang toe oopmaak sodat die kinders soos hulle terug –inkom van die speelgrond af, hulle plastiek goeters kan herwin in die spesiale houers. Trots op my?
Verder is daar nieks nuwe nuus nie. Tot later...H