Monday 10 October 2011

Die Konsert

Die konsert

Winkeltjie Sinkeltjie is ‘n klein winkeltjie in die agterstrate van Utrect in Sentraal Nederland. Dis waar ek en Herman eendag heerlik rondgesnuffel het tussen allerhande regte “gemors” en hier en daar baie oulike goeters, soos mooi Hollandse blikke en regte-egte Delft Kaasmesse.  Ons moes baie mooi besluit wat op aarde kan ons in ons “boks” terugstuur Suid Afrika toe.
Dis hier waar Herman een van daai Hollandse Porselein-teels met die regte Hollandse gesegdes raakgeloop het. Dit het gelui:
“Van het konsert des lewens, krijcht niemand een program”
Ek het nooit voorheen so baie daaraan gedink nie, maar die laaste paar dae het dit vir my so ’n werklikheid geword.

Dink nou maar as ons wel daai program gehad het... met watter ander uitkyk op die lewe ons sou rondloop. Buiten meer opwinding hier en daar, sou daar definitief ook meer angs gewees het oor die goed wat regtig angswekkend lyk en klink.

Ek meen nou maar.... wie van julle kan onthou hoe ek vir twee dae aanmekaar (ja regtig) gehuil het toe ek hoor dat ek swanger is met ’n tweeling. En toe die roller-coaster-ride met daai swangerskap, en alles wat daarop gevolg het. En kyk nou net waar sit ons vandag (Rina, hierdie deel was vir jou).

Verder sou ek regtig, ja regtig vir jou gelag het as jy twee jaar gelede vir my sou sê dat ek oor twee jaar in Australië sou WOON... nie vakansiehou, explore, kuier nie, maar WOON. Vergeet dit. Never. En tog... Kyk nou weer!

Maar toe gebeur die mees onwerklikste van alle dinge met ons hierdie week:
My Herman, ja die een wat getrou (come hell or high water) drie keer per week oefen, die een wat reg in die middel van sy bitong-snack by die rugby sal stop en sê: genoeg!, die een wat drie jaar gelede 25km in oop waters binne 8uur kon swem... ja daai een het Maandag in die einste swembad ’n hartaanval gehad. Bid jou aan. Nou wat kan mens daarop sê?

In ’n vinnige oggend gebeure het dinge in ons lewens ietwat verander. Nooit het ek beleef hoe iemand voor my na die kleur van woestynsand lyk nie. Nooit voorheen is iemand wat vir my meer kosbaar is as enige-iets op ’n stretcher in ’n ambulans ingestoot met paramedici wat rondom skarrel nie, nooit voorheen het Herman in die hospitaal gelê plat op sy rug, met pype en monitors nie. Skrik.

Ons mag nie meer “Tasty-cheese” gebruik om dinge smaak en Yum te gee nie. Ons mag nie meer Spek en ommelette twee keer elke naweek eet nie. Pizza is baie baie uit (?!?!) Ons kannie met die kinders gaan fietsry voor oor ’n hele ruk nie. Oh my goodness. Wat gaan aan?

Wat sou ons anders gedoen het as ons sou weet?
EK weet nie.
Al wat ek wel weet is dat mens regtig met meer aandag moet luister as die Bybel goed sê: Moenie sê more sal ons dit doen dan volgende week dat nie. Want jy weet wragties nie hoe dinge gaan verander nie. Net ons Meester weet. En gelukkig sê Hy ons nie voor die tyd nie.

Van die konsert weet ek dit:
Hoe langer mens jou instrument bespeel, hoe beter raak jy met bladmusiek. Die wat in die middel van die konsert aan die slaap gaan raak en net saggies saam-humm, gaan onverhoeds betrap word en uitgevang raak.

So: Hou aan speel, lees die musiek, gooi jou hart en siel in die beweging in, en speel met passie voort, die area kan ’n blitsvinnige toonsoort verandering maak!
Aan die einde van die konsert lê daai magic oomblik voor:
Die buiging onder applous, saam met die Konsertmeester.

No comments: