Thursday 24 November 2011

Radarskerm

Sjoe ek het al amper vergeet ek het ‘n blog.EK het die laaste paarweke verwoed gewerk hier by die kantoor... daar moes ‘n tender uitgaan.
En na my Oostenrykse mede-werker/tikker-oor-die-vingeraar/verminderaar –van-eie-aansien soggens met my klaar was, nog skaars voor my handsak my tafel geslaan het... het daar maar min van my positiwiteit en vrolikheid oor die mooi nuwe dag oorgebly. Daarby het ek ontdek my geliefde Aldi-supermark het ‘n tak nie ver van my kantoor af nie, wat beteken ek kan oor  middagete biki retail-therapy inkry, al is dit net om tamaties en komkommers te koop. Die volk moet mos darem eet... en dis een manier om dit gedoen te kry. Kom juis nou net van die winkel af met 8 bokse ProNutro (teen ‘n skamele omgewerkte R66.32 elk) en drie kg boerewors (boorewoors)teen die onrespektabele bedrag van R141,10 per kg. Ja buiten dat mens kan sê life is tough, is dit ook ‘n geval van exi... soos hulle hier sê vir “expensive”
Met die tender wat uitgegaan het eht ek nuwe hoogtes van regulering ontdek. Jy My heel grootste GRIPE met die Ozzie-lewe. Alles, ja Alles is iewers erens in een-of-ander statutere dokument gereguleer ten opsigte van minimum standaarde, ge-ag-te-voldoen reëls en hoeveelhede om te verskaf. Ou maat, en jy sal daaraan gehou word, want daar is amptenare wat ‘n salaris verdien om jou op te check. Rerig. So na aan sosialistiese samelwing. So “big-brother-is-watching-you”. EK het selfs al op die internet opgespoor dat daar so ‘n beweging was met die draai van die eeu... jong manne is gelok om in die land te kom werk, en dan hopelik te bly as hulle eers die mooie(?1?) down-to-earth-Ozzie-meisies leerken het, en is dan elk ‘n “big-brother” toegestaan om hulle biki oor die weg te help met die “Ozzie-way”. Daai ou het dan gesorg dat jy alles REG doen. EK skat dis maar deel van die DNA van die volk. Hier aangekom as mense waaroor daar gewaak is ( being convicts) en kan nou nie daarsonder klaarkom nie.
Intussen het ek ook nuwe hoogtes van die uiters outydse program AutoCAD ontdek. Dis nou die een wat ek ken asof dit my tweede taal is... of liewer gedag het ek ken (deesdae is daar mos net een ding op almal se lippe...REVIT).  Ons mag NET in Poly-lyne teken. ‘n Single-line is almal se pet-hate. Ons gebruik x-refs vir alles, model-en-paperspace (wat vir my ‘n pyn was) is nou tweede natuur... maar niks kom by die protokol van uitreik van tekeninge nie. As enigeiets my blondheid bewys aan my Oostenrykse senior, dan is dit dat ek net nie die fyners nuanses van regmerkies en kruisverwysings in ‘n excel-dokument wat vir ewig verfyn is om elke moontlike aanspreeklikheid uit te skakel kan regkry nie. Ek wens elke keer ek kan liewers my toonnael teen die stoelpoot afstamp en na Emergency gejaag word met ‘n bloederige gemors, as om self die uitreik-dokument te moet saamstel/pdf. Dit sal nog seker gebeur ook as ek so praat. Genoeg van my lamentasies oor die werk(ers).
Andersins gaan die tyd deesdae soveel vinniger om...seker omdat die dae soveel langer is. Dit word regtig nou eers hier by 8.30nm donker. Die somer is hier, en Saterdag was dit bv 32 grade, met 75% humiditeit. Maar tipies Canberra is dit nou nie iets wat hou nie. Sondag het daar goeie reen uitgesak en sedertdien het ons nog net ‘n paar uur son gesien... en dis nou al Donderdag. Gisteraand was ons minimum temperatuur 4 grade, en ons max vandag is 17!... nie dat dit so reen dat die tuine gaan groei met mening nie. Maar slaap is darem baie lekker in sulke weer.
Canberra is amper in tip-top-shape. Ons het soveel belangrike kuiermense gehad die laaste tyd... ons voel skoon asof ons in ‘n wêreldstad bly. Eers het die Qween kom kuier.. ja Liesbet haarsigselwers was hier... en die ou oom ook. Tog nogals merkwaardig hoe die ou man al in die negentig is en sy diep in die tagtigs, en hulle reis nog dat die biesies bewe. Na die ou twee weg is, was Barak Obama verlede week hier. Sjoe... ek sal jou sê, Ancke was skoon verontwaardig omdat niemand die stormwaterslote gefynkam het vir vreeslike goed toe die Queen hier was nie... maar vir Mr.Obama het hulle poeliesmanne ingevlieg om die pad op te pas voor iemand dit oprol en wegdra en dan waarop gaan die ou ry? Die verkeer (ha-ha!?!?) het gaan stilstaan vir die “motorcade”. Die hele Hyat Hotel is ontruim, personeel ook, en Air-Force-One het die helfte van die Ameirkaanse staatsdiens ingebring, Bullet-proof-Cadilac en al. Ons het Sondag in die Hyat gaan koffie drink, en gesien hoe nie kiekoeioe-gras en die topiaries getrim is. Ons verwag nog een belangrike gas... Princess Mary. Dis nou die naaste wat die Ozzies aan Royalty gaan kom. Sy is getroud met Frederick van Swede, maar is ‘n Ozzie-meisie wat in Hobart, Tasmania gebore is. EK sal jou sê, sy is op die voorblaaie van al die tydskryfte... meer as Kim Kardashian (dankie tog!)
Man gepraat van kiekoeioe-gras... ek verlang daarna. Die reuk as dit gesny word, en as dit reen... mmm, ek rol sommer Januarie daarin. Hier is net sulke aaklige gevrekte ou grasse wat in polle groei, en amper stekelrig is, g’n grasperk om van te praat nie.
Ons het deur ‘n super-diep-drif van verlange gesleep die laaste paar weke. Waarskynlik ook maar die nadraai van Herman se onverwagse hartaanval. Maar ons is darem weer deur, en waarskynlik biki sterker. Selfs die kinders huil nie meer so baie nie.
Ek het onlangs Bill Bryson se boek “Down Under” gelees. Ek weet nie of ek dit moet aanbeveel nie. As enige van julle dit lees gaan julle dink ek bly is ‘n sort la-la-land. EK het darem lekker baie gelag... veral oor hoe hy Canberra beskryf. Hy is so vrek oor die land, tog tussen die lyne is daar ook heelwat kritiek. Maar all-n-all is sy opsomming dat Aus nie die “known-world” is nie, maar ‘n misterieuse groot kontinent op die rand van die radar... Seker die dat hulle so obsessief is oor hul eie dingetjies en manier-van-doen... want niemand anders gee eintlik om nie... so hulle sal maar.
Nouja groete dan hier van die rand van die radar-skerm af...tot later.

No comments: