Friday 9 September 2011

die pad na die hart

Van al die onafwendbare dinge in die lewe
    soos die feit dat almal maar eendag doodgaan,
      dat almal elke dag een dag ouer word,
        dat niemand beheer het oor waar en aan wie hulle gebore word nie, is daar een wat uitstaan:
...........Almal moet eet!
In ons huishouding het ek tog maar besef dat die ou spreekwoord waar is, maar uitbreiding nodig het:
Die pad na man, vrou en kind se hart loop deur die maag "
Ons het mos die groot vreugde om ouma en oupa hier te hê vir ‘n maandlange kuier. Arme oups moet als wat stukkend is regmaak en doen dit met oorgawe. Ouma aan die ander kant, moet kook en bak dat die stoom trek vir haar akkomodasie.
En ja...dis asof daar ‘n nuwe hup in die stap van elke lid van ons huishouding is. En hoe dan anders met  die smake van tuisgebakte Gemmerkoekies, Soetkoekies, Beskuit, pangebraaide vis, “sous-hoender”, melktert, sjokolade-verjaardag-koek...alles soos net ouma dit kan maak. Die immer-keiskeurige-Michael het selfs met lus weggelê aan (dieselfde) wors wat ouma in die pan gebraai het, asof ons terug in die ou dae is.
Huiskos, maak van ‘n woning ‘n huis!
Om die wêreldbeker Rugby  en die seuns se tiende verjaardag te vier word die naweek afgeskop met tuisgemaakte hamburgers en chips en sal daar oor die naweek ‘n tradisionele braai gehou word, kompleet met pap, braaibroodjies en roomys vir poeding.
Eish...amper voel ek tuis!!!
Geniet saam met ons,
Liefde,

No comments: