Friday 5 August 2011

as jy koud kry, gaan sit in die son

I’m back!!! Nadat ek weereens die dieptes van verlange getref het en geween het, genoeg om ‘n paar bottels organiese saline-oplossing te produseer. Miemie... is daar ’n mark daarvoor?

Ek drink eergister koffie saam met my enigste vriendin hier (sy praat Afrikaans, so vroeg vyftigs, een getroude kind en een student-kind, Marelie) en ons twee sit in die son. Hier probeer ons alles om in die winter in die son te kom, want ons Vitamien-D raak laag en ons voel ellendig. So met die eerste koffie agter die blad verskuif die son en ek besef dit raak darem te koud so buite sonder son. Ek sê toe maar “neewat, kom ons skuif son toe!!!”. En dit was die sleutel-frase.
Wanneer dit koud en donkerrig raak om mens, moet jy son toe verskuif.

So toe doen ek maar wat ek die beste weet om te doen. Dink aan en sien al die komiese dinge wat ek kan, en raak besig. Besig in my geval beteken gaan maar net aan waar jy laas opgehou het met huisskoonmaak en wasgoed en die res!!! En dan natuurlik die “occasional” briefie vir my getroue vrindinne.
Ek vergaap my aan die pad-tekens en dit gee my baie binnepret. Eintik is dit seker meer waarskuwings-borde op strategiese plekke. Hier is ’n paar van my “favourites”:

“People DIE on ACT roads”
“Drive and text, you be next”         
"Drink and drive, DIE in ‘n ditch”
Ja hulle gee nogals nie om, om die graaf op sy naam te noem nie. En hier is my gunsteling wat my lekker hardop laat lag het in die kar:
            “It won’t kill you to miss that call”...
Waaronder een-of-ander desperate Ozzie toe met spuitverf bygevoeg het:
            “yeah, but the Mrs. Will!”

Hier in my nuwe tuiste maak ek voortdurend nuwe ontdekkings. EK het byvoorbeeld vanoggend weereens op sulke unieke dinge afgekom toe ek die woonkamerbank se kussings weggevat het om daar te stofsuig. Mensig, daar is ’n hele ekosisteem daar van verdrogende kosse en kouse en langvergete speelgoed. Gelukkig is ek die skoonmaker en nie Lettie nie, want soveel soos ek die liewe vrou mis, kan ek goed onthou dat oplig en vegskuif ter wille van skoonmaakdoeleindes nie haar sterkpunt was nie.
Op die noot van huiswerk het ek nog ’n klein juweel ontdek wat werelde oopmaak vir die selfdoen-huisvrou. (Ja, my wereldjie het nou maar klein geword ne!!) Ek sukkel vandat ons hier gekom het om die grys ring om die enigste bad in die huis afgeskrop te kry. Vim, Handy-Andy, staalwol... niks. Die gevolg is dat niemand van die huismense wil bad nie. Self het ek al lusgevoel vir ’n lekker stomende bad, maar dit tog maar ontsien. En daar kom die brainwave toe gisteraand na my toe. Ek spuit die nare ring met ’n lekker dik laag “Mr. Muscle No-Fume, Odourless Oven Cleaner”. Siedaar! 30 min later en dis afgehandel. So werk oven-cleaner ook vir die vasgebrande oorkook-gemors op die glasblad-stoof sowel as die helder-glas stort-deur met skuim merke wat nie deur die konvensionele “shower-cleaner” skoon wil kom nie. Mens moet net bereid wees om maar onder die water te kom as jy nou van die skuimerige besigheid wil ontslae raak in die stort.

Goed nou die bewys dat ek darem nog nie heeltemal dof geraak het nie. Laat ek julle net weer van Sydney vertel. Lucia, ek wil met jou skoonpa so halfpad saamstem. Sydney is werklik een van die mooiste stede in die wereld. Maar ken hy vir Chicago, en Wenen? Ag ek is ’n sucker vir mooi geboue en blou mere en kalm riviere. Ons was toe mos nou twee naweke terug weer in Sdney. Mense, dis sooo mooi, maar ek was nog nooit daar dat dit nie gereen het nie. Deksels. Ons het die asemrowende (Ja!!! Dit is) operahuis op die deurstap-toer gaan besigtig. Sjoe dis regtig iets om te beleef, maar soooo SAD. Daar gaan jaarliks 7miljoen mense deur daai gebou. Dis ’n icon regdeur die wereld, maar die “skepper” daarvan, argitek Jorn Utzon het nooit sy gebou klaar in lewende lywe gesien nie. Daar was ’n politieke onderonsie driekwartdeur die bouery en die man het hom (tipies) gewip en gesê, “ek stof die stof van Sydney van my skoene af vir altyd”. Dom man. Ai, politiek en ego is sulke vernietigende goed. Nouja. Hy het darem heel aan die einde van sy lewe sy seun gestuur om die heelnuutste veranderinge te behartig onder sy langafstand “supervision”, want hy sê toe neewat hy is nou te oud en bly liewer in Swede. Ek herhaal, dom man.
Daar is ’n vertrek met die eienaardigste muurgrootte tapiserie. Sulke vorms en kleurblertse, Jorn Utzon se weergawe van 1 of ander Beethoven simfonie. Daar is blykbaar ’n naam daarvoor as mens verskeie sintuiglike ervaringe tegelyk het... smake, visuele beelde en klanke, die gids het die woord gese en ek kon dit om die dood nie daarna onthou nie. Maar nou weet ek ek is nie stapelgek as ek die allerongelooflikste visuele goeters “sien” wanneer ek U2 luister nie. Weet darem nou nie of U2 met Beethoven opmatch nie, maar toemaar.

Gister was die Nienabers toe vir die vyfde keer in dire maande in Sydney. Die keer vir iets baie spesiaal. Ons het ons geliefde brakkie gaan haal. Ou Roxy het skoon bomskok gehad. Veral toe ons later met haar gaan stap het langs die strand in Manley. Wilna, ek be-aam... dis die plek om te bly. Net eenvoudig anders en so lieflik. Net finansieel buite bereik. Terug by Rox. Sy is maar biki maer, maar teen laat gisteraand het sy weer “mens” geraak. Nee hond geraak. Sy doen haar tipiese Roxy dinge en het selfs al een blaffie gegee.
Ancke het gehuil en gehuil en haar net vasgedruk. My arme kind kry swaar. Die trek het haar swaar getref. Net soos vir die res van ons. Maar nou het sy Roxy en sy, die gelukkige bogger, gaan volgende week Perth toe om vir drie weke. Om met haar maters en die se ouers te gaan kamp teen die noordkus van Wes-Australie. Sy gaan bruingebrand, uitgerus en vol Vitamien-D hier aankom. Ek is jaloers. Aan die ander kant, dit kannie maklik wees om dertien te word sonder alles en almal wat vir jou bekend is nie. Ja volgende week die tyd het ek ’n amptelike “tiener” in die huis. Sy is nou net 2,5cm korter as ek.

Maar nou op ’n ander noot. Elke selfrespekterende Ozzie weet dat landsake hier oor twee goeters gaan. Groen goed. En vreemdelinge-beleid. Nou hoop ek maar dit tel dat ek in Suid Afrika vuilgoed uitgesorteer het by die skool. Hier skei ek darem die spul, maar is skuldig daaraan dat ek elke gerieflike skoonmaakmiddel op die rak in my huis het. Ek was nie die vloere net wit asyn nie, en ek gebruik maar ou staatmaker koue-water-OMO. Wereldwye staatmaker.
Wat vreemdelnge beleid aanbetref: Hier gaan dit alles rondom die “Bootmense”. Dis vreeslik treurig en ou Julia Gillard is nou besig met ’n baie omstrede beleid om mense net so terug te stuur na Maleisie, waar hulle situasie geprossesseer sal word. Ek ondersteun die girl, maar meeste mense hier is meer begaan oor die koeie wat “onmenslik” behandel word in Indoniesiese Abbatoirs, as die “refugeees”

Om terug te kom na my vreemdelinge-issue. In die einste hotel waar ons drie naweke terug in Sydney gebly het vat ek een oggend ’n heerlike lang warm stort (daar is baie geysers, dis nie Denmanstraat 9 nie) maar toe ek met die rooiwarm-lyf uit die stort uitspring en die helderverligte vollengste-spieel aanskou toe staan daar ’n vreemdeling!!! Saartjie Baartman!!!!
Wat gaan ek doen? Stuur asseblief die heel beste tips. Net die wat werk. Nie lensie en druiwe-dieete van Nataniel nie, want selfs daarvan kan mens te veel eet. Ha!!! Ek het kits-rade nodig. Wat werk. My ma-hulle kom kuier in September en dan gaan die huis klein en benoud voel, mens kannie nog vet ook wees nie, dan kan ons nie almal bymaar verbykom in die gang nie!!! Ha-ha... ek het net myself daarvoor te danke. Miskien moet ek maar net die kondensmelk-rak en die kaaskoeke en al daai dinge vermy. En dan moet ek ookmaar die -5grade soggens soos die ander brawes teestaan en gaan stap met die stoomwolle om my mond.       

Tot later!

No comments: